KORTISOON INSPUITINGS

Wat is 'n kortisoon-inspuiting?

Kortisoon is 'n tipe van steroïde wat natuurlik deur 'n klier in jou liggaam (bynier) vervaardig word. Kortisol word vrygestel van die bynier wanneer jou liggaam onder stres verkeer. Natuurlike kortisoon word in die bloedstroom vrygestel en het ‘n relatiewe kort werkingsduur. Inspuitbare kortisoon word sinteties vervaardig en het baie verskillende handelsname (bv. Celestone, Depo-Medrol ens), maar is baie naby aan die liggaam se eie kortisoon. Die belangrikste verskil is dat sintetiese kortisoon nie in die bloedstroom ingespuit word nie, maar in 'n spesifieke gebied van inflammasie (bv die skouer). Die sintetiese kortisoon is ook meer kragtig en werk vir ‘n langer tydsduur (dae in plaas van minute). Kortisoon is nie dieselfde tipe van steroïde as die stimulante wat atlete soms onwettig gebruik nie.

Hoe sal die inspuiting my help?

Kortisoon is 'n kragtige anti-inflammatoriese medikasie. Kortisoon is nie ‘n pynmiddel nie maar dit behandel net die inflammasie. Wanneer die pyn verminder word van kortisoon is dit omdat die inflammasie verminder word. Deur die toediening van die kortisoon in 'n spesifieke area van inflammasie, kan 'n baie hoë konsentrasies van die medikasie gegee word terwyl potensiële newe-effekte tot 'n minimum beperk word. Kortisoon inspuitings werk gewoonlik binne 'n paar dae, en mag soms vir ‘n paar weke werk.

Waar word kortisoon inspuitings gebruik?

Enige area waar daar erge inflammasie is. Dit sluit in, maar is beslis nie beperk tot:

  1. Skouer bursitis en ander inflammatoriese toestande of beserings (Biceps tendinitis, bursitis, kalsifiserende tendinitis, gevriesde skouer ens)
  2. Artritis
  3. Sneller vinger
  4. Tenniselmboog
  5. Karpale tonnel sindroom

Is dit 'n pynlike inspuiting?

Die inspuiting kan effens pynlik wees maar indien ‘n kundige persoon dit toedien word dit gewoonlik goed verdra. Dikwels kan die kortisoon-inspuiting met 'n baie klein naald ingespuit word wat ook die ongemak beperk. Daar word gewoonlik ‘n verdowingsmiddel (soos Lidocaïne of Marcaine) saam met die kortisoon ingespuit wat ook plaaslike verdowing verskaf in die area van die inspuiting.

Dit is belangrik om in ag te neem dat kortisoon slegs die inflammasie minder maak maar nie onderliggende toestande kan genees nie. Om hierdie rede kan kortisooninspuitings verskeie uitkomste tot gevolg hê:

  1. Volledige verligting van simptome met geen herhaling
  2. Volledige verligting van simptome vir 'n minimum of matige tydperk gevolg deur herhaling
  3. Geringe verbetering van simptome, gevolg deur 2-3 verdere inspuitings (verskillende intervalle)
  4. Geen verandering in simptome

Mense wat nr. 1 en 2 ervaar het kan gewoonlik nie uitgepraat word oor die wondermiddel nie. Aan die ander kant van die spektrum sal mens gewoonlik nie baie beindruk wees met kortisoon nie en gewoonlik al hulle vriende en familie daarvan vertel!

Redes waarom ’n inspuiting nie gewerk het nie, kan wees omdat:

  1. Die toestand het nie 'n inspuiting benodig nie of die diagnose is nie korrek nie
  2. Die inspuiting is nie korrek toegedien nie
  3. Daar is nie inflammasie in die area waar die inspuiting toegedien is nie

Is kortisoon nie gevaarlik vir my en wat is die newe-effekte?

Die mees algemene newe-effek is pyn in die skouer na die inspuiting. Dit duur gewoonlik 'n dag of twee en word die beste hanteer met rus en ‘n pynpil. Jy kan ook 'n paar "gloede" in jou gesig kry vir 'n dag of twee. Dit is nie 'n allergie nie en slegs ‘n lastige maar nie gevaarlike newe-effek. Ander newe-effekte van kortisoon inspuitings, hoewel skaars, kan baie ernstig wees. Die ergste newe-effek is infeksie, veral as die inspuiting gegee word in 'n gewrig. Dit word voorkom deur ‘n goeie inspuitingstegniek. Pasiënte met diabetes het 'n kortstondige toename in hul bloedsuiker wat hulle fyn moet dophou en hulle moet gereeld bloedsuikermetings neem. Kortisoon is 'n natuurlike middel en allergiese reaksies teenoor die middel kom nie voor nie. Indien iemand ‘n allergiese reaksie toon is dit waarskynlik van die lokale verdower wat saam ingespuit word of die skoonmaakmiddel wat gebruik word.

Hoeveel Kortisoon mag ek kry?

Daar is geen reël oor hoeveel kortisoon inspuitings gegee kan word nie. Dokters wil meestal nie meer as 3 inspuitings gee nie maar daar is nie wetenskaplike bewyse vir of daarteen nie. Daar is egter ‘n paar praktiese riglyne:

  1. Indien ’n kortisoon-inspuiting nie werk nie of baie vinnig uitgewerk is, is herhaling van die inspuiting nie aangedui en moet ander stappe geneem word.
  2. Dierestudies het getoon dat herhaalde kortisooninspuitings die tendons en kraakbeen kan verswak. Hierdie is die hoofrede hoekom dokters die aantal inspuitings beperk.